kliek op 'n aanbieder
As klein seuntjie het Willie op hulle plaas Vyfbeker altyd grootoog na sy ma gestaar terwyl sy kos in hulle kombuis voorberei het. Daar het sy passie vir kos begin. Willie is self lief om kos voor te berei en te onthaal, en hou self gereeld langtafel-etes en markte wat gaste al weke voor die tyd brand om sy nuwe disse te probeer. “Om kos te maak is vir my om soos ‘n brief te lees van iemand wat jy lanklaas van gehoor het. Die opwinding van die wit Croxley koevert in jou hand is die nuwe resep wat jy eenvoudig net moet toets. Die lees van die brief op die fyn wit lyntjies papier is die voorbereiding van die kos” sê Willie. Willie as bekende sanger en kabarateur het sy buiging as aanbieder in Restaurante Toe gemaak op ASTV, hy het gereeld bydraes as kosrubriekskrywer gelewer vir Tydskrif in die sondagkoerant Rapport. Maar deesdae is Willie die geliefde aanbieder van KOS IS OPPIE TAFEL en aan sy sy is Etienne Smith wat hom help uie kap, roer en meng. Etienne deel met ons die geskiedenis van verskeie kossoorte en dek ook weekliks vir ons 'n pragtige, unieke tafel wat pas by die weeklikse tema. Hoop julle geniet nog vir Willlie en Etienne! Moenie KOS IS OPPIE TAFEL misloop nie. Elke Maandag om 19h30 met herhalings deur die week.
VASKAP, - TV program word eksklusief op Mytv (voorheen ASTV), kanaal 460 op StarSat uitgesaai. Vaskap word aangebied deur Loutjie Louwies. Loutjie vang egter nie net vis op TV nie – met ‘n unieke aanbiedingstyl leer hy die kykers om self die tegnieke en metodes toe te pas sodat hengel vir hulle ook maklik kan wees. Vaskap is enig in sy soort met byna 27 000 mense op die Vaskap Facebook blad. Vaskap het ook al oor die 350 episodes uitgesaai. Vaskap het ook sy eie klub waarby enige hengelliefhebber kan aansluit en maandeliks ‘n pakkie ontvang met vorige TV programme op asook vele meer voordele en aanbiedinge. Baie nuwe planne is op die kaarte vir Vaskap met hengeltoere deur die land asook klinieke, werkswinkels en Vaskap naweke.
Cor Uys is vir die afgelope 30 jaar bedrywig in die musiekbedryf van Suid-Afrika en het veral bekendheid verwerf as Oom Karoolus in Oom Karoolus en Lente, 'n kinderbedieningspan. As span het hy en sy vrou Letita tientalle CD's en DVD's opgeneem. Hulle is ook betrokke by die uitsaai van hulle stories op gemeenskapsradiostasies, asook op televisiekanale, onder andere ASTV. Deur die jare was hy ook betrokke by die vervaardiging van musiekvideos (wat o.a genomineer is vir Ghoema toekennings) en 'n vollengte kinderprent (Oom Karoolus en Lente: Die Moewie). Cor het deur die jare ook as solo kunstenaar heelwat produksies opgeneem asook die video, “Cor Uys en Vriende”. Hy het ook vir baie jare as radio omroeper by Radio Kansel gewerk en uitgesaai. Die jare van optredes op die verhoog, radioprogramme wat opgeneem en uitgesaai is en die baie ure van televisie opnames en uitsendings, maak dit vir Cor moontlik om in 'n lekker gesels styl met sy gaste te praat en te kuier!
Maranataland sang en kinderbediening Die Bediening self: Ons is die afgelope ses-en-twintig jaar betrokke by kinderbediening en staan bekend as MARANATALAND KINDERBEDIENING, met Oom Karoolus en Lente. Ons radiopragramme oa MARANATALAND word gereeld uitgesaai. Ons bedien by geleenthede en plekke soos: kleuterskole, skole, gemeentes, jeugweke, ATKV, kunstefeeste, ens. Ons doen ook kinderteater wat bestaan uit ‘n geestelike produksie OF sekulere produksie. Twaalf produksies is op ons kerfstok en ons is die afgelope sestien jaar by Brettian Platemaatskappy. Die Optredes behels: Die program wat gewoonlik ‘n uur beloop, bestaan uit ‘n groot gedeelte saamsing en saamdoen. Die woorde van die liedjies is eenvoudig en op die Woord gebasseer. Kinders oud en jonk leer dit vinnig gedurende die optrede aan. Oom Karoolus hanteer gewoonlik die gedeelte. Saam met Lente (dogtertjiepop van 5 jaar) word een of ander storie of insident vertel wat ons herinner aan iets wat in die Bybel staan. Op ‘n praktiese manier word ‘n skrifgedeelte aan die kinders op hierdie manier verduidelik. Dan ook ons sekulere program wat gebasseer is op ons nuutste DVD, Fliekie liedjies wat bestaan uit 80 bekende sekulere kinderliedjies. Die program is gemik op al die kinders, jonk en oud, (gestryk en ongestryk). Dit is dus ‘n aanbieding wat gemik is op die hele gesin.
Die aantreklike sanger Bouwer Bosch het geen bekendstelling nodig nie. Nie net het hy bekendheid verwerf as hoofsanger van die Straatligkinders en toe later as deel van die groep Dans Dans Lisa nie, hy is ook deesdae aanbieder van die nuwe Afrikaanse reisprogram Agterpad wat op DSTV te sien is. In Agterpad durf Bosch die langpad Wes-Kaap toe aan waar hy by talle klein dorpies besoek aflê. Rekord het met Bosch gaan gesels oor presies hoe dit gebeur het dat hy deesdae eerder as aanbieder voor die kamers te sien is. Geniet jy dit om ‘n aanbieder te wees? Eerlikwaar was dit vir my ’n groot uitdaging. Ek is gewoond aan tekste en ek kan gelukkig flink op my voete dink. Om deel van dié reeks te wees is vir my ‘n groot voorreg en ek het baie geleer. Ek sal defenitief weer so ’n avontuur wil aanpak maar ek moet sê ek het baie respek vir aanbieders gekry na die verfilming van Agterpad. Wat was jou gunstelling plek waarheen jy gereis het tydens die verfilming van Agterpad? Piket-Bo-Berg was die mooiste plek waar ek in my lewe al was. Ek was in verwondering daar. Wat was jou gunstelling ervaring gewees? Om so ’n mooi deel van ons land te sien was wonderlik. Ek was nog nooit in een van daardie klein dorpies gewees nie so dit het gevoel of my hele wêreld verander. Ek kan nie wag om weer so ’n reis mee te maak en om vir my vriende te gaan wys waar ek was nie.